Baie geluk! As jy hierdie artikel oopgemaak het, beteken dit jy is in een van die mees opwindende tye van jou lewe. Verlief, verloof en besig om die troue van jou drome te beplan!
Dit is maklik om al van vroeg af gefrustreerd te raak met die ontelbare details wat jou aandag benodig… Maar hierdie tyd hoef nie in ‘n stresbelaaide herinnering te ontaard nie. Voor jy wegspring met jou beplanning, is dit belangrik om eers bietjie terug te staan, asem te haal en die volgende wenke in gedagte te hou.
1. Geniet dit om verloof te wees!
Voor julle ‘n datum vasstel, geniet eers daardie idilliese gevoel om ‘n nuutverloofde paartjie te wees. Deel foto’s van jou ring op Instagram, gaan op romantiese ‘dates’ as verloofdes, reël ‘n verlowingsfotosessie en vertel al jou vriende en familielede. Dit gaan tyd en inspanning verg om die troue te beplan, so maak seker jy geniet eers ‘n rukkie lank daardie in-die-wolke-gevoel saam met jou verloofde.
2. Sodra julle ‘n begroting saamgestel het, hou daarby
Veral as jy en jou verloofde self betaal vir julle troue, of as jy julle ouers ‘n bietjie geld wil spaar. Stel ‘n raamwerk vir ‘n begroting op en gebruik dit om sommige reëlings vir jouself makliker te maak. Byvoorbeeld, elimineer die duur wynplaas-venue van jou lysie af indien dit nie in jou begroting val nie. As jy ‘n bietjie ekstra geld kan spaar is dit nog beter, want dan is daar iets in die begroting oor indien daar dalk ‘n paar onbeplande uitgawes opduik. (Let wel: daar is altyd uitsonderings! Indien daar ‘n spesifieke aspek is waarsonder jy nie jou droomdag ‘n werklikheid kan maak nie, gesels daaroor. Dalk is daar ‘n manier om dit te laat werk…).
3. Begin by ‘n punt
Gee jouself oorgenoeg tyd om te beplan. Begin dan deur te soek vir die regte venue en/of troukoördineerder. Party bruide verkies om alles self te reël, wat natuurlik net so goed werk - veral as jy reeds ‘n spesifieke en maklik uitvoerbare idee het van hoe alles moet lyk en verloop. Maar, as jy verkies om die las van die reëlings effe ligter op jouself te maak - of as jy weet jou troue gaan ‘n groot storie wees - dan is ‘n professionele troukoördineerder ‘n goeie idee. Indien dit binne jou begroting is, natuurlik. Partykeer het die venue waarin jy belangstel hulle eie koördinering- en spysenieringspan, soos by Excelsior Weddings & Functions. Dit maak dit baie makliker om sommer van die begin af jou idees en reëlings te sentraliseer.
4. Geduld is goed
Dit klink soos ‘n eenvoudige aspek om te onthou. Maar partykeer gaan dit voel asof iets net nie gou genoeg gebeur nie. Onthou, jy hoef nie alles onmiddellik af te handel het. Wanneer jy ‘n bietjie langer moet wag vir die spyskaarte om gedruk te word, of vir jou rok om afgelewer te word, is dit nie die einde van die wêreld nie. Jy het reeds genoeg tyd vir alles uitgesit - om ongeduldig te raak, gaan slegs onnodige stres veroorsaak. Raak rustig, haal asem en onthou Wenk 8: behou perspektief oor wat eintlik belangrik is.
5. Moenie té perfeksionisties wees nie
Ja, sluit elke liewe detail in wat jy nog altyd op jou troudag wou gehad het. Maar onthou, die troukoördineerder of venuepersoneel wat jy in beheer van die dekor of fyner besonderhede gesit het, weet wat hulle doen. Dis nie verkeerd om ingestel te wees op detail nie, maar jy kan hulle ervaring vertrou. Dit is jou troudag en jy werk deur elke stap saam met hulle. Maar aangesien hulle al baie troues vantevore beplan het, weet hulle wat werk en wat nie werk nie. Vertrou dus hul oordeel indien jy nie elke aspek van jou troue tot op die fynste besonderhede volgens jou ideale kan doen nie. Jy sal steeds die dag van jou drome hê, maar jou koördineerder kan dit dalk nog meer uitvoerbaar vir jou maak.
6. Jy gaan dalk met jou gunstelingmense vassit
Jy en jou verloofde gaan dalk vassit oor die skedule of gastelys. Jy en jou bruidsmeisies gaan dalk nie saamstem oor hul rokke nie. Jou ma gaan dalk se daar’s te veel “fieterjasies” op die tafels. Wees bewus daarvan dat ‘n troue soos ‘n groepstaak is - waarvan jy die leier is. Elkeen het ‘n werkie, en elkeen het ‘n opinie. Maar gelukkig het jy uiteindelik die laaste sê. So, hanteer enige konfliksituasie soos wat dit kom en moenie toelaat dat die nietige frustrasies jou spesiale ervaring versuur nie.
7. Dit gaan nie net oor jou nie, maar oor julle
Baie keer voel die bruidegom dat hy nie deel hoef te wees van die beplanning nie. Dat hy “reg is met enige iets,” solank sy bruid net daar is. Hoewel dit ‘n baie romantiese idee is, is dit goed om steeds die bruidegom op hoogte te hou en hom so ver moontlik te betrek by die reëlings (sonder om hom te dwing!). Julle ken mekaar immers goed: hy is dalk juis die tipe wat vir jou raad kan gee oor die praktiese reëlings rakende die kroeg, die stoele in die kerk of die tafelspasiëring. Onthou, die dag is albei van julle s’n. Maak seker die troue is ‘n weerspieëling van julle altwee se persoonlikhede en jul verhouding.
8. Behou perspektief
Hierdie is die wenk waaraan jy weer en weer moet dink wanneer jy moedeloos of gefrustreerd voel. Onthou waaroor die dag eintlik gaan: die begin van jou en jou lewensmaat se avontuur saam. Om die perfekte dag te beplan is belangrik, maar die belangrikste is om jou verlowingstyd te geniet en ‘n troudag te reël wat julle vir ewig met vreugde sal onthou.
Met hierdie wenke in jou agterkop het jy niks om jou oor te bekommer nie. Jy gaan rustig en selfversekerd voel dat jy ‘n troue gaan beplan wat perfek is vir julle. Boonop sal jy slegs goeie herinneringe aan hierdie verlowingstyd en uiteindelik ook die troudag hê.
Nou is dit tyd om weg te spring en te beplan! Hou ons volgende artikels dop vir advies vir elke aspek van jou beplanning.
Hou jy van hierdie blog? Laat weet ons wat jy dink in die kommentaar hieronder - en onthou om dit te deel met almal wat jy ken!
Comentarios