top of page
Search
Writer's pictureRouxne van der Westhuizen

'n Selfbeplande troue - of 'n koördineerder?

Is hierdie een van die vrae wat jou al sedert jou verlowing pla? Daar is verskeie redes hoekom bruide deesdae ‘n troukoördineerder huur om die hele troue vir hulle te beplan. Maar daar is ook baie bruide wat verkies om die beplanning self te behartig. So wat is dan die beste opsie?

Hier is die voordele en nadele van elke opsie, en wenke wat jy in gedagte kan hou vir wanneer jy jou keuse gemaak het. Dit sal jou help om meer inligting te hê voordat jy finaal besluit wie die leisels by jou troue moet  neem.

Voordele van ‘n troukoördineerder

1. Hulle het ervaring


Koördineerders het al baie troues vantevore gereël, terwyl hierdie waarskynlik die eerste en enigste troue is wat jy gaan beplan. Aangesien hulle al baie kere deur die proses is, weet hulle reeds wat werk en wat nie werk nie. ‘n Koördineerder kan raad gee en professionele stappe neem waarvan jy dalk nie eers bewus is nie.

2. Hulle kan nuwe idees gee

As jy saam met ‘n troukoördineerder werk, kan hulle uit hul professionele ervaring vir jou kreatiewe idees gee wat jy nog nie oorweeg het nie. ‘n Koördineerder kan vir jou ‘n nuwe perspektief oor jou troue se tema of dekor gee, en dit is dalk net wat jy nodig het om jou troue onvergeetlik te maak.

3. Die stres val nie op jou nie

Met ‘n koördineerder aan die stuur, hoef jy jou nie te bekommer oor die stres wat gepaardgaan met die fynere beplanning van jou troue nie. Sonder hierdie las op jou skouers, kan jy slegs die lekker tyd voor jou troudag geniet en verseker voel dat alles reeds hanteer is.

4. Jy spaar tyd

Koördineerders weet klaar presies wat dit behels om ‘n troue te beplan, en hulle kan hierdie stappe sommer vinnig neem indien nodig. Dit beteken dat ‘n koördineerder dalk jou beste opsie is indien jy vinnig ‘n kort tydlyn vir die reël van jou troue het.

5. Jy kan geld spaar op sekere reëllings

As jy van verskillende besighede gebruik moet maak vir elke aspek van jou troue, dan kan jou troukoördineerder moontlik vir jou afslagpryse verseker. Koördineerders gebruik dikwels dieselfde spysenieringsbesighede en dekorverhuurders en kan dus goeie pryse by hierdie plekke onderhandel danksy hul lojaliteit. Dit is ‘n voordeel wat jy nie noodwending self sal kan regkry as ‘n eerste kliënt nie.


Nadele van ‘n koördineerder

1. Hulle kan duur wees om aan te stel

Hoewel ‘n koordineerder afslag kan kry op sekere gebiede, kan die huur van ‘n koördineerder self jou ‘n paar ekstra rand uit die sak uit jaag. Somtyds vra ‘n koördineerder ‘n hoë prys om al die besonderhede van jou troue oor te neem, so maak seker oor hul tariewe voordat jy iemand aanstel.

2. Jy is nie in beheer nie

Hoewel dit vir sommiges perfek werk om die verantwoordelikheid aan iemand anders af te staan, is dit nie die best opsie vir ander nie. As ‘n koördineerder in beheer is, beteken dit dat jou beheer oor sekere aspekte weggevat word en jy sal nie noodwendigheid sekerheid kan hê oor elke detail van jou troue nie.

3. Dit is soms moelik om ‘n goeie troukoördineerder te kry

Goeie en ervare troukoördineerders is skaars, veral as jy in ‘n kleiner of plattelandse dorpie bly.

4. Jou troue is nie so persoonlik nie

Indien jy iemand anders in beheer van jou troue plaas, kan dit dalk daartoe lei dat dit nie so persoonlik vir jou gaste sal voel soos ‘n troue wat jy self gereël het nie. Dit sal dalk nie 100% jou eie stempel wees wat jy op die troudag afdruk nie, omdat die koördineerder al die besluite namens jou gaan neem en dalk ‘n meer moderne, ‘trendy’ benadering as jou oorspronklike idees volg.

5. Jy kan dalk voel asof jy uitmis

Om nie heeltemal betrokke te wees by die administrasie en die beplanning van jou troue nie, kan dalk veroorsaak dat jy nie heeltemal deel van jou eie troudag voel nie. Ja, die eindresultaat kan ongelooflik lyk, maar jy kan dalk voel asof jy nie regtig betrokke was nie en dus uitgemis het op die volle ervaring vooraf.


Wenke indien jy ‘n troukoördineerder wil huur


  • Maak seker jy doen eers ‘n onderhoud met die koördineerder wat jy in gedagte het, en kyk dat jy en die persoon goed kliek. Dit help baie as julle op dieselfde bladsy is wat jou troue en styl betref, en indien julle goed oor die weg kom, sal die beplanningsproses vlot en volgens jou wense verloop.

  • Bly steeds betrokke by die reëlings deur gedurig jou idees vir die koördineerder te stuur en gereelde vergaderings te hou. Vra ook dat die persoon voor elke groot besluit of uitgawe eers met jou moet bevestig vir finale goedkeuring.

  • Moenie dat die koördineerder jou in iets inpraat waarmee jy nie gemaklik is nie. As jy ‘n intieme, vintage troue wil hou met min uitgawes, hou daarby. Jy hoef nie die koordineerder se voorstelle vir duur dekorstukke of ‘n modieuse estetika te volg nie. Dit bly jou troue, so die finale sê is joune.

  • Laastens, maar beslis nie die minste nie, maak seker ‘n troukoördineerder pas in jou begroting.


Voordele van ‘n selfbeplande troue

1. Jy is ten volle in beheer.

Jy het ‘n hand in elke liewe afdeling van die troue, so jy kan seker wees dat alles volgens jou visie gereël en uitgevoer word. Jy kan jou eie navorsing doen oor die afhandel van elke besonderheid en self al die details bevestig, volgens jou eie voorkeure en tydlyn.

2. Jy kan elke stap van die beplanningsproses geniet

As die beplanner van jou eie troue, is jy betrokke by elke stap van die beplanningsproses. Dit beteken dat jy die volle ervaring van troukoors tot die maksimum kan geniet!

3. Jy kan seker wees dat dit 100% die atmosfeer het wat jy wil hê

Met ‘n koördineerder aan die stuur, is jy nie altyd heeltemal seker of die finale gevoel en atmosfeer van die dag sal wees soos wat jy dit graag wil hê nie. As jy dit self beplan, weet jy dat alles volgens jou beplanning sal lyk en gebeur.

4. Jy spaar geld

Dit is duur om ‘n koördineerder te huur, so indien jy besluit om self te beplan, is dit ‘n gedeelte van jou begroting wat jy op iets anders kan spandeer. Tesame hiermee, het jy dan steeds die opsie om ‘n koordineerder vir slegs die dag van jou troue te huur wat alles oorsien terwyl jy regmaak. Baie venues het hierdie opsies, en party venues (soos Excelsior) voorsien ‘n in-huis troukoördineerder wat na al die besonderhede omsien wat jy wil hê. Dit kan alles van die dekor tot die spyseniering wees, of dit kan slegs raadgewing en ‘n ekstra hand op die troudag wees.


Nadele van ‘n selfbeplande troue

1. Jy het nie professionele insig nie

Soos reeds genoem, is dit die eerste troue wat jy beplan. Troukoördineerders het al baie troues beplan en het in-diepte insig oor die industrie, nuwe modes en die beste beplanningswenke. Hierdie professionele kennis en ekstra ‘touch’ gaan nie noodwendig by jou troue teenwoordig wees as jy dit self beplan nie.

2. Daar is stres betrokke

Dit is ongelukkig ‘n feit. Al die verskillende besonderhede waaraan jy moet aandag skenk wanneer jy self jou troue beplan, gaan beslis ‘n fisiese en soms emosionele uitwerking op jou hê. Hoewel dit net vir ‘n beperkte tyd is en hierdie stres definitief die moeite werd sal wees wanneer jou troudag onvergeetlik is, verkies baie bruide steeds om eerder hierdie spanning te vermy.

3. Jy het nie dieselfde kontakte nie

Sonder ‘n koördineerder wat al die dienste en verhurings vir jou hanteer, moet jy jou eie navorsing doen oor die beskikbare venues, spysenieringsdienste en bloemiste in die omgewing waar jy wil trou. Dit kan langer neem om met die regte mense in kontak te kom, en dan boonop die produkte en dienste te vind waarmee jy 100% tevrede sal wees.

Wenke vir wanneer jy jou troue self beplan

  • Doen goeie navorsing oor wat alles nodig is vir ‘n troue, hoe om jou begroting op te stel en te inkorporeer, by watter plekke jy die nodige dienste gaan kry.

  • Wees georganiseerd. Hou ‘n dagboek of ‘n Excel ‘spreadsheet’ oor elke beplanningsaspek wat jy al afgehandel het en wat nog bevestig moet word. Onthou ook om akkuraat boek te hou van elke uitgawe en deposito.

  • Vra raad. Jou ma of tannie het ook al ‘n troue gereel, so praat met hulle as jy sukkel met iets. Gesels deurlopend met jou verloofde, en sleep hom saam waar moontlik om sommige van die keuses vir jou makliker te maak. Kry verskillende insette en opinies oor wat die beste sal werk vir elke afdeling waaroor jy twyfel. Onthou om jou groter visie altyd in gedagte te hou.

  • As jy op jy senuwees voel aan die begin van jou beplanningsproses, lees hier oor wat jy in gedagte moet hou voordat jy jou troue begin beplan.


Daar het jy dit! Alles wat jy moet weet oor ‘n selfbeplande troue, asook die huur van ‘n troukoördineerder. Onthou, op die ou einde van die dag kan jy so betrokke by jou eie troue wees soos wat jy wil en mee gemaklik voel. Hopelik kan hierdie volledige inligting jou help om die regte stap te neem vir jou droomtroue.

Hou jy van hierdie artikel? Wil jy graag elke week nog nuwe wenke vir die beplanning van jou troue per e-pos ontvang? Teken gerus in op ons blog en laat weet ons wat jy dink!

143 views0 comments

Recent Posts

See All

コメント


bottom of page