Die begroting is seker een van die grootste kopsere van enige troue. Dit is, uit die aard van die saak, een van die belangrikste aspekte wat jy moet afhandel voordat jy volstoom begin met die res van jou reëlings. Hier is ‘n maklike begrotingsgids wat jou sal help om jou troubegroting op ‘n praktiese manier saam te stel. Volg hierdie paar wenke om vinnig van julle begrotingskopseer ontslae te raak.
1. Eerstens: hoeveel is beskikbaar?
Bepaal hoeveel geld jy en jou verloofde beskikbaar het om die troue te reël. Indien julle ouers of iemand anders gaan help betaal aan die troue, sit saam met hulle en gesels oor hoeveel elkeen gaan bydra. Skryf dan elkeen se bydrae neer en gebruik dit om die totale beskikbare bedrag te bepaal. Hieruit kan julle op ‘n begroting besluit wat genoeg is om elke aspek van die troue te dek: die venue, spyseniering, dekor, huur van ‘n troumotor, blomme ensovoorts. Jy kan die begroting opbreek in kleiner kategorieë vir elkeen van hierdie aspekte.
2. Begroot altyd ‘n bietjie meer as wat nodig is
Daar is dikwels onverwagse en onbeplande uitgawes wat opduik in die proses van troubeplanning. Om te verhoed dat julle te veel in die rooi met jul begroting beweeg, maak seker julle begroot ‘n klein bietjie meer vir elke aspek as wat julle beplan om uit te gee. Dit sal ekstra sekerheid gee wanneer daar ekstra fooie of uitgawes is waarvan julle nie aanvanklik geweet het nie. Onvoorsiene kwessies en uitgawes is amper ‘n gegewe as dit kom by die beplanning van ‘n troue!
3. Kyk na die gastelys
Dit help om ‘n idee te hê van hoe groot die gastelys gaan wees voordat julle ‘n begroting opstel. Die grootte van die gastelys bepaal die grootte van die troue, aangesien jy vir genoeg kos, spasie en tafels moet sorg om almal te akkommodeer. Om dit nog makliker vir jouself te maak, werk ‘n “maksimum bedrag” per persoon uit wat julle bereid is om te betaal.
4. Kyk na die venuepryse in die omgewing
Indien julle reeds julle trouvenue gekies het, kan dit deel van jou beplanning vorm vir hoeveel geld julle gaan spandeer. Indien julle eers die begroting wil opstel voordat julle na venues begin kyk, doen navorsing oor die venues in die omgewing waar julle wil trou. Volgens die getal gaste wat julle beplan, werk dan ‘n gemiddelde bedrag uit vir hoeveel die huur van die venue gaan wees en wat dit alles insluit. Jy sal dalk al ‘n paar van die venues moet kontak vir hierdie stap. Sodra jy min of meer hierdie bedrag bepaal het, kan jy dit inreken by die finale begroting.
5. Prioritiseer
Wat is absoluut ononderhandelbaar vir jou droomtroue? Wat is heel bo-aan jou lys van prioriteite: die venue, die rok, die troukoek, die blomme? As jy volgens jou prioriteite ‘n lys maak, sal jy agterkom vir watter aspekte jy die meeste geld moet uitsit.
6. Wees ‘n goeie boekhouer
Sodra julle ‘n begroting het en wegspring met die spandeerfase, hou ‘n rekord van elke uitgawe wat julle maak en vergelyk dit deurlopend met julle begroting. Kry ‘n sisteem wat vir jou werk - al is dit ‘n eenvoudige notaboekie of ‘n Excel ‘spreadsheet’. Dit is belangrik, omdat jy elke nou en dan moet seker maak dat julle nog binne die begroting vir elke aspek werk. Jy kan so ook bepaal hoeveel daar nog oor is indien daar onvoorsiene uitgawes opduik.
7. Wees slim met uitgawes
Hou altyd by die begroting waarop julle besluit het. Wees realisties genoeg wanneer julle die begroting opstel, maar reken altyd ekstra by sodat julle nie voel asof julle slegs die goedkoopste opsies moet kies nie. Hanteer julle begroting soos ‘n wet: wanneer jy oor iets twyfel, kyk wat sê die begroting oor die saak en besluit of dit uitvoerbaar is.
Met hierdie paar praktiese wenke sal julle begroting glad nie ‘n uitputtende uitdaging wees nie. Onthou, dis ‘n goeie idee om dit sommer heel eerste te doen van al julle beplanningsaspekte. Die begroting speel immers ‘n groot rol in elke ander element van die troue. Dis waarskynlik die moeilikste deel van jou administrasie, so sodra julle dit agter die rug het, kan julle met selfvertroue (en finasiële gerustheid) die res van julle beplanning aanpak!
Teken in op ons blog om elke week handige advies vir die beplanning van jou droomtroue in jou inbox te kry.
Comments