top of page
Search
Writer's pictureRouxne van der Westhuizen

Kies die perfekte fotograaf vir jou troue

As jy mooi daaroor gaan dink, is jou troufoto’s die enigste tasbare ding wat jy oorhet van jou troudag nadat dit plaasgevind het. Die foto’s is wat jou spesiale dag dokumenteer, die getuigskrif van jou en jou geliefde se spesiale storie. Dis hoekom dit belangrik is dat jy die regte fotograaf kies om hierdie dag vas te vang, sodat jy seker daarvan kan wees dat julle nog jare lank met vreugde terug kan gaan na die foto’s van dag wat julle trou aan mekaar belowe het.


Hier is ‘n paar dinge om in gedagte te hou wanneer jy na ‘n troufotograaf begin soek.


1. Begin plaaslik soek, maar moenie laat dit jou beperk nie


Doen goeie navorsing oor watter fotograwe in jou trouvenue se area beskikbaar is en stuur vir almal van hulle ‘n navraag met julle beplande troudatum. Maar onthou dat jy verder ook kan soek - as daar nie ‘n fotograaf in jou dorp is van wie se foto’s jy hou nie, kyk na die aangrensende dorp se fotograwe, of selfs in die res van die provinsie. Die meeste fotograwe is altyd bereid om te reis vir ‘n troue, maar hou net in gedagte dat hulle dan ‘n addisionele bedrag as reiskoste sal vra by hulle pakketprys. Stuur soveel navrae uit as moontlik, sodat jy ‘n goeie idee kan kry van watter opsies daar is en watter verskillende pakkette daar buite is om van te kies. Hoe meer jy uitreik, hoe beter is die kans dat julle die perfekte fotograaf en pakket sal opspoor.


2. Kyk na die fotograaf se vorige foto’s en styl


Dis altyd goed om eers ‘n bietjie op al die fotograwe wat jy in gedagte het se sosiale media en webtuiste te gaan loer. So kan jy na hul portefeulje van vorige troufoto’s kyk en seker maak dis dieselfde tipe fotografiestyl en kwaliteit waarna julle soek.


3. Maak seker die fotograaf is ‘n lekker mens!


Die fotograaf gaan ‘n baie groot rol in jou troudag speel en gaan amper die hele dag saam met julle spandeer - vandat jy begin regmaak voor die seremonie, tot die heildronke by die onthaal. So, maak seker jy ontmoet jou fotograaf in persoon en dat dit ‘n vriendelike en bedagsame persoon is, iemand wat jy meer oor die weg kom en van hou. ‘n Nors fotograaf kan dalk jou dag versuur as jy heel dag in hul geselskap moet spandeer.


4. Moenie net vir die goedkoopste opsie gaan nie


Jou troufoto’s is een van die goed waarop jy waarskynlik die meeste geld op een slag gaan spandeer, maar onthou dat dit heeltemal normaal is. Fotograwe moet ook hul brood en botter verdien, en hulle werk hul pakkette op ‘n spesifieke manier uit sodat hulle vir jou die beste diens vir die beste prys kan lewer. Omdat jy vir die res van jou lewe nog na julle troufoto’s gaan kyk, maak seker jy kyk na die fotograaf se portefeulje en maak seker dat hul foto’s fantasties lyk en inpas by die styl wat jy wil hê. Dit is veel beter as om net met die goedkoopste fotografiepakket te gaan om geld te bespaar. Sny eerder aan ander elemente in jul begroting as wat julle die kwaliteit van jul troufoto’s prysgee.


5. Kyk deeglik deur elke pakket


Die meeste fotograwe sal meer as een pakket aanbied wat verskillende elemente insluit. Een van hul goedkoper pakkette sal byvoorbeeld ses ure se fotoneemtyd insluit, met ten minste 400 geredigeerde foto’s en een foto-afdruk op ‘n gemonteerde canvas. ‘n Duurder pakket sal tien ure se fotoneemtyd, ten minste 600 foto’s, ‘n foto-afdruk en twee gedrukte fotoboeke insluit. Kyk rustig deur al die pakkette en maak seker julle kies die een wat die beste opsies vir julle bied. Miskien voel julle dat ‘n fotoboek nie nodig is nie - kies dus ‘n pakket wat dit nie insluit nie. Jy kan ook altyd vir die betrokke fotograaf vra of die ingeslote elemente in hul pakkette aanpasbaar is.


6. Bespreek vroegtydig


Maak jou fotograaf sommer een van die prioriteite op jou afmerklysie vir die troue. Fotograwe word maklik ‘n jaar vooruit geboek vir troues. So, om seker te maak dat jy iemand kry wat beskikbaar is vir julle datum, stuur vroegtydig navrae uit en gesels sommer aan die begin oor watter fotograaf julle wil vasmaak vir jul troue.


Met hierdie paar wenke sal jy dit sommer baie makliker vind om die regte fotograaf vir jou troue te kies! Vir meer inligting oor ons venue en voorstelle van fotograwe in die Mosselbaai en George area, stuur gerus vir ons ‘n e-pos: vleesbaaiweddings@gmail.com.


71 views0 comments

Recent Posts

See All

Kommentare


bottom of page