top of page
Search
Writer's pictureRouxne van der Westhuizen

Moet jy 'n videograaf huur? Voordele en nadele van 'n trouvideo

‘n Trouvideo is ‘n uiters gewilde neiging onder troues die afgelope paar jare. Nadat die troue plaasgevind het, wag die gaste en die bruidspaar nie net vir die troufoto’s nie, maar ook vir die video van die troue wat ‘n videograaf geneem en saamgestel het. Baie nuutgetroude paartjies is dikwels spyt as hulle nie ‘n video laat neem het nie, maar ander is weer heeltemal tevrede met pragtige, hoë kwaliteit foto’s. Daar is egter voordele en nadele aan die neem van ‘n trouvideo, en hierdie artikel gaan jou help besluit of dit iets is wat jy vir jou troue behoort te oorweeg.



Wat behels die neem van ‘n trouvideo?


Jy huur basies ‘n videograaf om al die belangrike oomblikke en aspekte van jou troue op video vas te lê. Dit bevat gewoonlik die bruid en bruidegom se regmaaktyd vooraf saam met bruidsmeisies of strooijonkers, die seremonie, die fotosessie en die onthaal. Somtyds bevat die video die troue se beeldmateriaal wat die videograaf met mooi of romantiese musiek geredigeer het. Ander trouvideos bevat die regte oudio-opname van die seremonie, troubeloftes, eerste dans of heildronke, afgewissel met agtergrondmusiek. Die video wat net musiek bevat, is dikwels kunstig aanmekaar gesit met die beeld wat effens stadiger gemaak is vir ‘n dromerige, romantiese atmosfeer. Die video gee dus ‘n bewegende, lewensgetroue oorsig van elke fase in jou troudag, van begin tot einde.



Voordele indien jy ‘n videograaf huur

Dis ‘n manier om jou troue oor en oor te herleef


Dink net hoe wonderlik dit moet wees om weer te kan teruggaan en julle sprokiesdag weer van voor af te sien afspeel! Wat meer is, baie bruide (of bruidegomme) is taamlik senuweeagtig op die troudag of hulle voel dat die dag sommer in ‘n waas verbygegaan het. Met ‘n video kan jy met nuwe perspektief en waardering weer terugkyk na jul troudag. Partykeer sien jy oomblikke in die video gebeur waarvan jy skoon vergeet het, of wat nie aanvanklik op daardie dag opgelet het nie.

Dit vang die atmosfeer vas op ‘n manier wat foto’s nie kan nie


Videos bevat beweging en klank, wat dit ‘n baie groot voordeel oor foto’s gee ten opsigte van atmosfeer. ‘n Video kan klein oomblikke, emosies en aksies vasvang wanneer ‘n mens vergeet dat die kamera daar is en steeds afneem, soos jy en jou man wat vir mekaar lag tydens die fotosessie of hoe jou ma met tranerige oë na jou kyk terwyl jy in die paadjie afstap. Hierdie oomblikke gaan partykeer verlore as ‘n mens jou “pose” moet hou vir foto’s. Dit kan byvoorbeeld jou en jou man se troubeloftes vasvang indien julle dit self skryf en aan mekaar tydens die seremonie voorlees. Jy kan sommige van die heildronke ook laat afneem en behoue laat bly. Dit kan dus ‘n mooi uitdrukking wees van julle verhouding, die mooiheid van die dag en jul liefde vir mekaar en jul familie en vriende.

Die videograaf laat baie keer toe dat jy die musiek vir die video kies, en dit kan dus ‘n manier wees om dit persoonlik en eie aan jou en jou aanstaande se verhouding te maak. Dalk het julle ‘n gunstelingliedjie wat goed sal werk met ‘n video van jul troue?



Dit behels nie baie spasie of ongemaklike toerusting nie


Deesdae se videograwe het nie ‘n groter opset as ‘n videokamera en dalk ‘n driepootstaander of ‘n gimbal nodig nie. Om die waarheid te sê, byna al hulle bykomstighede pas sommer in ‘n rugsak wat hulle saamdra. ‘n Videograaf wat sy storie ken, sal dus nie ‘n ongerief in die kerk of in die venue wees nie.

Dit is iets wat jy vir altyd kan hou


Danksy digitale video, is ‘n trouvideo iets wat vir altyd behoue sal bly indien jy dit veilig op ‘n rekenaar, ‘n hardeskyf of selfs op Google Drive bewaar. Dit beteken jy kan dit selfs eendag vir jou kinders wys, sodat hulle kan sien hoe julle troue destyds gelyk het! ‘n Video is soms lekkerder om te kyk as wat dit is om ‘n foto-album deur te blaai.

Jou gaste gaan daarvan hou om dit na die tyd te sien


Almal wat ‘n troue bygewoon het, is gereeld op die uitkyk vir hulleself op die troufoto’s - dis ‘n feit! Hulle sal dus selfs meer opgewonde wees om hulself tydens die seremonie of op die dansvloer op julle trouvideo te sien. Wanneer julle die video op sosiale media deel ‘n rukkie na die troue, is dit ‘n goeie maniere vir jou gaste om weer die vreugde van die dag te herleef. Die gaste wat nie na julle troue toe kon kom nie, sal dit ook geniet om na die tyd die video te kyk en te voel asof hulle dit ook saam met julle beleef het.


Nadele indien jy ‘n videograaf huur

Dis duur


Soos fotograwe, wissel verskillende videograwe se pryse. Maar dit bly ‘n taamlike uitgawe wat jy sal moet inreken, aangesien daar baie moeite by die neem en redigering van die video ingaan. Indien jy besluit om ‘n videograaf te kry, maak seker dat jy vir voorbeelde van hul vorige trouvideos vra of na hul webwerf en portefeulje kyk. As jy vir ‘n goeie trouvideo betaal, dan wil jy seker maak dat dit goeie kwaliteit is.

Die videograaf kan dalk knaend wees


Daar is ‘n moontlikheid dat die videograaf ‘n bietjie irriterend kan voel, veral gedurende die seremonie waar jy moontlik ‘n meer gewyde atmosfeer wil behou. Dit kan dalk voel of die videograaf en sy/haar kamera heeltyd in julle gesigte is en julle selfbewus laat voel of die spontaneïteit van jul dag kan beïnvloed. Alhoewel, ‘n professionele videograaf is iemand wat sonder groot moeite of obstruksie sy werk kan doen. Hulle weet gewoonlik hoe om die bruidspaartjie en almal by die troue op hul gemak te plaas en te laat vergeet dat die kamera eers daar is. Dit is hoekom dit belangrik is om die persoon wat jy huur, na te vors en seker te maak dat hulle professioneel is en ervaring het.



Dit kan tydrowend wees


Hy/sy kan dalk ‘n lang ruk daaraan spandeer om sekere aksies en oomblikke “perfek” te kry vir die kamera. Voorbeelde hiervan is byvoorbeeld hoe jy ‘n brief of geskenk van jou aanstaaande oopmaak voor die troue, of hoe jy parfuum aanspuit voor die spieël. Die videograaf mag dalk selfs vra dat julle sekere aksies tydens die fotosessie oor en oor doen, om seker te maak dit lyk reg op film. Jy en jou man moet dalk meer as een keer ‘n draai doen, of in die lug spring, of ‘n handvol blare in die lug gooi. Alles terwyl julle gaste staan en wag.

Jy of jou aanstaande is dalk nie gemaklik voor ‘n kamera nie


Selfs al is die videograaf professioneel, is ‘n persoon met ‘n kamera altyd iets wat mense oplet en van bewus is. Om te staan vir ‘n foto is een ding, maar om etlike sekondes of selfs minute lank natuurlik voor te kom terwyl daar ‘n videokamera op jou gerig is, is dalk nie iets waarmee jy of jou verloofde gemaklik is nie. Voordat jy besluit, maak dus eers seker dat dit iets is wat nie een van julle twee sal pla nie. Bygesê, ‘n goeie videograaf weet ook hoe om iemand gemaklik te laat vertoon op film, selfs al voel die paartjie in werklikheid “awkward.”


Die fotograaf en videograaf kan vassit


Dit gebeur nie gereeld nie, maar die videograaf en fotograaf kan dalk in mekaar se pad kom of nie oor die weg kom nie. Dit sal ‘n ongemak in die logistiek van jou troue veroorsaak, en kan selfs veroorsaak dat een van hulle nie ten volle hul werk kan uitrig nie. ‘n Moontlike oplossing hiervoor is om ‘n fotografie- en videografie-"combo" te huur: ‘n fotograaf en videograaf wat saamwerk of vir dieselfde besigheid werk. Dit sal beteken dat hulle gewoond is aan mekaar en nie in mekaar se pad sal kom nie. Dit kan jou dalk ook ‘n bietjie geld spaar om so ‘n pakket te koop, eerder as ‘n aparte fotograaf en videograaf.


Met hierdie aspekte in gedagte kan jy self besluit of ‘n trouvideo iets is wat jy en jou toekomstige man graag wil hê. Vir sommige paartjies is die foto’s genoeg, maar sommiges wil graag ‘n bewegende, lewende herinnering aan hul onvergeetlike dag hê. Die keuse bly joune, en dit hang natuurlik ook van ander faktore af, soos jou getalle (jy sal dalk vir die fotograaf én videograaf moet kos gee by die onthaal) of jou begroting. Hoe dit ook al sy, maak seker dat elke besluit wat jy rondom jou troue maak, inskakel by jou en jou aanstaande se verhouding en jul beplande droomtroue.



75 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page