top of page
Search
Writer's pictureRouxne van der Westhuizen

Hoe om jou troue eenvoudig te hou

As ‘n groot en buitensporige bruilof nie jou styl is nie, moenie bekommerd wees nie. Dis heeltemal voldoende om ‘n intieme, eenvoudige en selfs goedkoper troue te hou, veral as dit in elk geval veel beter by jou en jou verloofde pas. Indien jy weet dat jou troue ‘n persoonlike en eenvoudige een moet wees, gebruik die volgende wenke om dit ‘n realiteit te maak.


1. Sny onnodige uitgawes uit

Hierdie is ‘n afdeling op sy eie wat die eenvoud en atmosfeer van jou troue kan beïnvloed. In plaas daarvan om geld uit te gee op duur of buitensporige dekor, blomme of disse, kyk eerder na alternatiewe opsies wat julle kan help om geld te bespaar.

1.1. Sny aan die gastelys


Baie venues se pakkette word saamgestel uit ‘n sekere bedrag wat jy per persoon op jou gastelys betaal. Om jou gastelys korter te maak, is dus ‘n onmiddellike manier om julle uitgawes te beperk. Nooi slegs die mense wat ‘n integrale rol in julle lewe speel. As jy verder mense wil uitkanselleer, gaan deur jou kontakte op jou foon en skryf slegs die name neer van die mense waarmee jy in die afgelope ses maande gepraat het. ‘n Kleiner aantal gaste beteken meer spasie in die kerk en in jou venue, en dit sal dadelik ‘n meer intieme atmosfeer verseker. Vir meer wenke oor hoe om die perfekte begroting vir julle troue saam te stel, lees gerus hier.

1.2.Kies jou blomme noukeurig


Een van die ander groot uitgawes is troublomme. Doen navorsing oor watter blomme die duurstes is, en kyk of jy dalk ander soortgelyke, goedkoper opsies kan vind. Kyk byvoorbeeld hoeveel jou gunstelingblomme sal kos, en as dit aan die duur kant is, kan jy daardie blomme dalk beperk tot jou ruiker of ‘n enkele rangskikking in die kerk. Jy hoef nie orals blomme te hê nie. Daar is deesdae ‘n groot tendens onder bruide om groenigheid, geplukte blare of veldblomme te gebruik. Dit kos jou nie ‘n sent nie en lyk boonop steeds mooi.

2. Doen meer DIY-projekte


Vir ‘n outentieke en eenvoudige inslag in jou dekor, kyk watter tafelplasings of versierings jy self kan maak in plaas daarvan om kandelare of groot dekorstukke te huur. Dalk kan jy kalligrafie doen en jou kaartjies en spyskaarte met die hand skryf. Dit sal ‘n egte en persoonlike gevoel aan jou dekor gee waarin jou gaste onmiddellik jou hand sal raaksien. Onthou om jou bruidmeisies en familieliede in te span om jou te help hiermee.



3. Oorweeg ‘n ander venue


Vra jouself of die duisende rande wat dit behels om by ‘n gewilde wynplaas of elegante trouvenue te trou, werklik dit moeite werd is vir julle as paartjie. Party venues vra ‘n kleiner venue fooi, of selfs geen, wat jou baie meer vryheid sal gee ten opsigte van blomme, dekor en spyseniering. Kies eerder ‘n venue wat reeds die gevoel en voorkoms het wat jy graag wil hê, sonder dat jy te veel veranderinge hoef aan te bring.

Dis ook ‘n goeie idee om ‘n venue te kies wat ‘n kapel, ‘n onthaalsaal en ‘n buitespasie vir skemerkelkies bied. Dit maak dit makliker vir jou gaste en ook vir die beplanning en vloei van die troue. Wat nog beter werk, is as die venue in ‘n pragtige natuurlike ligging is met hope potensiaal vir pragtige troufoto’s. Julle hoef dan ook nie iewers heen te ry tussen die seremonie en die onthaal en jou gaste vir ure lank te laat wag nie!

4. Prioritiseer


Besluit saam met jou verloofde watter aspekte van uiterste belang vir julle is voordat julle met die begroting begin. Dalk is julle vasbeslote om in ‘n plaasskuur te dans by die onthaal, of jy soek ‘n sekere soort blom omdat dit jou ma se troublomme was. Vir baie troues is die bruidspaar se eerste prioriteit die spyskaart. Kies dus watter elemente ononderhandelbaar, en waar julle ‘n bietjie meer buigsaam kan wees.



5. Het jy ‘n familielid wat goed is met ‘n rekenaar en klanktoerusting?


Fantasties! Julle kan dus net die nodige luidsprekers in die hande kry en vooraf die speellys saamstel wat jou talentvolle neef of oom net vir julle aan die gang moet hou tydens die onthaal. Maak net seker jou familielid ken sy storie, aangesien die musiek en klankkwaliteit vir die aand die onthaal kan maak of breek. Indien jy min mense nooi en ‘n klein venue huur, het jy moontlik nie eers ‘n mikrofoon nodig vir die heildronke nie. Soortgelyk het jy dalk ‘n familielid of goeie vriend wat reeds ‘n fotograaf is - hoor gerus of hulle jou troufoto’s sal neem.

6. Oorweeg die kleiner ontwerpdetails


‘n Ander manier om jou persoonlike, eenvoudige stempel op die troue te plaas, is om dekor en goedere te gebruik wat jy reeds het. Dalk is daar mooi stelle borde en eetgerei wat jou ma of ouma vir ‘n spesiale geleentheid gehou het (wie sê al die borde moet bymekaar pas?). Dalk is daar ou potte of bottels in julle motorhuis waarop jy die tafelplasings kan skryf. Kyk wat in jou en jou naastes se huise beskikbaar is voordat jy jou aankope beplan.



7. Hou die troukoek eenvoudig


‘n Vier-laag fondantkoek lyk dalk mooi op foto’s, maar dit gaan dalk nie so lekker smaak soos ‘n tuisgebakte sjokoladekoek of lig versierde wortelkoek nie. In plaas daarvan om ‘n groot en duur troukoek te koop waarvan jou gaste dalk nie eers gaan eet nie, kry eerder ‘n kleiner koek wat jy en jou man steeds saam kan sny, en dan aan jul gesinne kan uitdeel of weer huis toe kan vat.

8. Moenie jou troue met ander vergelyk nie


Jy kan steeds idees op Pinterest bymekaarmaak en inspirasie trek van vorige troues wat jy bygewoon het, maar onthou dat jou troue ‘n verteenwoordiging van jóú en jou aanstaande moet wees. Dis nie nodig om sekere dekor, ‘n “harvest table” en duur skemerkelkies te inkorporeer net omdat dit ‘n gewilde tendens is nie. Watter van daardie elemente is werklik verteenwoordigend van julle verhouding?

9. Geniet dit!

Baie bruide raak opgewerk en senuweeagtige oor hulle troues omdat hulle wil hê alles moet perfek wees. Onthou waaroor die dag eintlik gaan: oor jou en jou toekomstige man! Maak dit die hooffokus van jul troudag, en dit sal reeds perfek wees - maak nie saak watter blomme jy gebruik of hoe die dekor lyk nie. Maak seker dat julle en jul gaste lekker eet en lekker saam partytjie hou. Dit is tog ‘n feesviering!



Hou jou troue eenvoudig met hierdie paar wenke. Maak seker dat julle alles het wat julle nodig het om ‘n pragtige en persoonlike troue te hou, en moenie te veel fokus op die ander, onnodige dinge nie. Indien dit by jou en jou aanstaande pas, is ‘n eenvoudige troue die perfekte geleentheid om julle nuwe toekoms saam met julle geliefdes te vier.

264 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page