top of page
Search
Writer's pictureRouxne van der Westhuizen

7 Gewilde troutemas van 2020

Die beste manier om ‘n goue draadjie deur die voorkoms en gevoel van jou troue te laat loop, is om ‘n tema te kies. Dit kan ‘n baie spesifieke tema wees, soos ‘n plaastroue, ‘n Great Gatsby-troue of ‘n strandtroue. Jy kan ook ‘n bietjie breër gaan en ‘n algemene tema kies waarmee jy buigsaam kan wees, soos ‘n elegante, romantiese troue of ‘n woudtema. Hoe dit ook al sy, jy kan kies en keur van die verskillende temas waarvolgens jy jou troue kan beplan. Hier is sewe van die gewildste troutemas vandag.

1. Boheems



Boheems of bohemian chic is ‘n sagte, romantiese en meer moderne tema wat deur die natuur geïnspireer is. As ‘n mens die woord “boheems” hoor, dink jy dadelik aan aardse kleure, bruin of gedempte kleure en amper woestynagtige elemente soos takke, vetplante, veldblomme, krale, vintage tasse en houttafels. Hierdie tema is ‘n baie gewilde tema in 2020, met meer en meer bruide wat ‘n gemaklike en meer aardse atmosfeer verkies. Binne hierdie tema het die bruid dikwels blomme in haar hare en ‘n ongewone ruiker van blare, bessietakke of palms. Die fotografie is gewoonlik meer kunstig en dramaties, en die dekor behels sagte, geel beligting (soos fairy lights en oop gloeilampe). ‘n Mens sien ook baie groenigheid en elemente soos droomvangers, vere of boomstompe in hierdie tema. ‘n Boheemse troue werk goed in ‘n plaasskuur of opelug-venue, maar jy kan die tema in enige spasie toepas.

2. Romanties



Hierdie tema is perfek as jy hou van pastelkleure, kandelare, baie blomme en ‘n elegante atmosfeer. Kleure wat gewoonlik hierby inpas is ligpienk, sagte groen, wit of poeierblou. Vir hierdie tema kan jy baie lig gebruik, insluitend kerse, hangende ligte en kandelare. Indien hierdie tipe tema binne jou smaak val, beteken dit jy het ‘n klassieke en luukse styl het wat jy op ‘n pragtige manier kan uitbeeld op jou troudag. Inkorporeer gerus kristalglase of silwer kersstaanders, en elegante blomme soos rose, krisante en gypsophila.

3. Reistema



Miskien het jy en jou verloofde besluit om ‘n destination wedding oorsee te hou, of julle het albei ‘n passie daarvoor om die wêreld te toer. As jy ‘n resigersgees het, hoekom laat jy dit nie in jou troudag posvat nie? ‘n Oulike idee is om internasionale reis en avontuur in jou troue se dekor te inkorporeer. Jy kan elke tafel ‘n ander land se naam maak, sodat jou oom en tannie by Griekeland sit en jou skoolvriende by Suid-Amerika. Jy kan mooi reistasse, posseëls en wêreldkaarte gebruik vir die mooimaak van jou voorportaal, spyskaarte en troukaartjies.

4. Woud en groen



Hierdie is ‘n baie gewilde tema deesdae, omdat dit baie veelsydig is en dadelik die kleurpalet vir jou maklik maak. ‘n Bostema behels meer blare as blomme, houttafels, sagte en natuurlike beligting en boomstompe wat dien as staanders vir ruikers of kerse. Hierdie tema kan jou dalk ‘n bietjie geld en tyd spaar, indien jy naby ‘n veld of bos bly waar jy groen blare, fynbos of rankers verniet kan pluk. Dis ‘n goeie tema as jy ‘n deurlopende gevoel van rustigheid en eenvormigheid wil hê. Jy kan die res van jou visuele elemente by die groen en bruin kleure van die woudtema laat aanpas.

5. Sprokietema



Is jy lief vir stories, feetjies en fantasie? Dan is hierdie die perfekte tema vir jou troue. Jy kan allerhande sprokie-elemente inbring, soos kastele, towerstaffies en kandelare, paddastoele en ‘n “enchanted forest” atmosfeer. Miskien wil jy selfs ‘n spesifieke sprokiesland inkorporeer, soos Alice in Wonderland of Hogwarts van Harry Potter. Dis ‘n pret tema wat jou en jou gaste na ‘n ander wêreld sal wegvoer. Jy kan boonop die prinses van die sprokie speel deur ‘n tiara saam met jou sluier of ‘n elegante balrok te dra. Dit is immers jou sprokiesdag!

6. Alternatief of moody



Hierdie tema is vir bruide met ‘n alternatiewe smaak in dekor. Indien jy eerder die konvensionele ligpienk rose en wit rok wil vervang met donker kleure, buierige beligting, dramatiese grimering en ‘n donkerder rok, is hierdie een vir jou. ‘n Alternatiewe tema pas gewoonlik by kunssinnige paartjies wat ‘n alternatiewe literatuur-, klere- en musieksmaak het, en wat wil hê dat hul troudag hierdie belangstellings moet uitbeeld. Dit het amper ‘n Gotiese of Middeleeuse gevoel. Dis ‘n baie moderne tema en baie bruide verkies deesdae ‘n moody kleurpalet, veral in hul troufoto’s.

7. Strandtema



Party bruide droom daarvan om kaalvoet op die sand saam met hulle toekomstige man te staan, terwyl die seebries deur haar hare waai en die see in die agtergrond druis. ‘n Strandtema was nog altyd gewild en natuurlik perfek indien jy ‘n buitelugtroue in gedagte het. As jy naby aan die see trou en nie noodwendig op die strand self nie, kan jy steeds skulpe, branderplanke, seilbote en ander strandelemente gebruik in jou dekor.

Hierdie is ons sewe gunsteling troutemas. Maar, maak nie saak wat jou persoonlikheid en belangstellings is nie, daar is ‘n eindelose verskeidenheid van troutemas waarvan ten minste een perfek vir julle is. Op daardie punt: maak seker dat jou verloofde ook van die tema hou en dat dit ‘n voorstelling van julle albei is. Sodra jy ‘n tema in gedagte het, kan jy volstoom begin besluit oor kleure, tafelversierings en elke ander visuele detail. Geniet dit!

Van watter troutema op ons lysie hou jy die meeste? Of het jy dalk ‘n hele ander tema in gedagte vir jou troue?


109 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page