top of page
Search
Writer's pictureRouxne van der Westhuizen

Top 10 Troukleure van 2020

Jou kleurpalet is die goue draadjie wat al jou troue se visuele elemente gaan saambind. Jou bruidsmeisies se rokke, die blomme en die algemene dekor gaan by jou kleurskema moet inskakel sodat jou troue die atmosfeer kan hê wat jy in gedagte het. As jy wonder oor waar om te begin met die kies van jou ideale troukleure, hier is tien van die gewildste troukleure in 2020.


1. Sage Green

Hierdie kleur is ‘n sagte, amper gryserige groen. Dink aan die kleur van ‘n woestynroos vetplant of eucalyptus-blare. Hierdie kleur is al vir ‘n paar jaar lank uiters gewild by troues, omdat dit goed saamwerk met bykans enige ander kleur in jou palet. Boonop leen dit ‘n sagte, natuurlike gevoel aan jou troue wat slegs groenigheid kan regkry. Dis die perfekte kleur as jy graag ‘n bostroue wil hê, of dit as ‘n komplimentêre kleur wil gebruik saam met ‘n elegante dieprooi, vuilpienk of ligte terracotta.


2. Desert Rose

Jy sal dit dalk ken as vuilpienk. Hoewel hierdie kleur baie naby is aan dusty pink, is dit ‘n klein bietjie helderder en ligter. Hierdie gedempte pienk tel nie heeltemal as ‘n pastelkleur nie, maar dis ook nie ‘n helder kleur wat dadelik aandag trek nie. Dis ‘n vleiende skakering en baie gewild vir bruidsmeisierokke.


3. Cinnamon Rose

Hierdie bruinerige rooi is basies die kleur van fyn kaneel met ‘n dieprooi tint. Dit werk goed saam met ligter skakerings van pienk, soos blush pink of dusty rose. Jy kan dit ook in kombinasie met grys skakerings of groenigheid gebruik.


4. Burgundy

Die gewilde dieprooi, selfs donkerder as maroen, wat ‘n geheimsinnige en diep gevoel aan jou troue gee. Dis ‘n baie elegante kleur, maar moet eerder met ‘n paar meer neutrale kleure gekombineer word om nie oorweldigend voor te kom nie. Soos sage green, dusty pink, liggrys of terracotta.


5. Terracotta

Hierdie is ‘n aardse, donkergeel kleur wat herinner aan kleipotte of geel oker. Dis perfek vir ‘n boheemse of “rustic” troutema en kombineer ook goed met ‘n wye spektrum van ander warmer kleure en aardse skakerings.


6. Cantaloupe

‘n Ligte pienk-oranje, amper soos ‘n perskekleur. Cantaloupe is ‘n verfrissende en gewilde kleur vir somertroues, weens sy helder en ligte gevoel. Soos baie ander kleure, werk dit goed saam met groen, maar bruide wat van hierdie kleur gebruik maak verkies gewoonlik ‘n meer beperkte palet. Weens sy besonderse skakering, is dit beter om slegs een of twee ander kleure saam met dit te gebruik.


7. Mint

Mint-groen is ‘n sagte, geslagsneutrale kleur wat ook baie veelsydig gebruik kan word by ‘n troue. Dit het ‘n vars en lieflike gevoel en is perfek vir ‘n lentetroue, in kombinasie met ander pastelkleure of ligter skakerings van pienk, groen, pers of grys.


8. Ligte Grys

Ook soms bekend as fog grey indien dit ‘n effense blou ondertoon het. Liggrys is ‘n ideale neutrale kleur vir ‘n wintertroue. Dit kan as hoofkleur gebruik word saam met wit vir ‘n minimalistiese, elegante troue. Dit werk ook goed saam met ‘n verskeidenheid ander kleure indien dit as die sekondêre, meer neutrale kleur in die palet gebruik word. Dit werk byvoorbeeld perfek saam met groen, burgundy of ander rooi, terracotta, champagne, sapphire of dusty blue.


9. Champagne

Die goue kleur van sjampanje word amper altyd geassosieer met feesviering. Dis hoekom hierdie liggeel skakering dus ‘n gewilde kleur is by bruilofte. Daar is baie wat jy met hierdie kleur kan uitrig, omdat dit ‘n ligte en veelsydige kleur is.Dis ook ‘n unieke kleur wat jou troue ‘n besonderse, ‘goue’ gevoel kan gee. Dit lyk mooi saam met ander warm kleure soos bruin of rooi. Dit kan ook werk saam met ‘n dieper kleur, soos navy of donkergroen.


10. Sapphire

Dit is ‘n diep blou, amper navy maar nie so donker nie. Hierdie kleur is veral gewild omdat dit mooi lyk by bruidsmeisierokke of by die bruidegom en strooijonkers se klere. ‘n Klassieke en elegante diep blou was nog altyd ‘n wenner by troues, wat juis die rede is hoekom hierdie kleur ook al ‘n lang ruk in die mode is.



BONUSKLEUR: Slate Blue

Ons moes net hierdie kleur ook met julle deel! Dis ‘n ligter blou wat ‘n mens amper laat dink aan powder blue. Dis ‘n pragtige kleur wat jou troue se atmosfeer kalm en elegant sal maak. Dit kombineer goed met grys, groen en selfs burgundy.


Hierdie is ons top troukleure vir 2020, maar daar is nog baie ander kleure daarbuite om van te kies. Met hierdie kleure in gedagte, is dit tyd om ‘n volledige palet vir jou troue saam te stel. ‘n Standaard kleurpalet vir ‘n troue bestaan uit drie of vier kleure wat komplimenterend teenoor mekaar is. Een of twee kleure binne hierdie palet is gewoonlik ‘n meer neutrale kleur, sodat jou sterker kleure - soos burgundy, desert rose of sapphire blue - die hooffokus vorm. Om alles slegs een sterk kleur te maak kan ook ‘n bietjie oorweldigend wees. Soek gerus na nuwe idees op Pinterest en kyk watter palette ander bruide gebruik het. So sal jy maklik kan agterkom watter kleure goed saamwerk. Jy sal dan sonder moeite die perfekte kleure vir jou troue kan kies.

Watter kleure op ons lysie hou jy die meeste van? Het jy dalk al klaar jou troukleure gekies? Deel dit gerus in die kommentaar hieronder!

378 views0 comments

Recent Posts

See All

コメント


bottom of page