Excelsior Weddings se skuur het al baie gesigte gehad. Maar die een tema wat nog altyd die venue se spesialiteit was, is ‘n egte, outentieke plaastroue! Ons het ‘n paar wenke saamgestel wat jou kan help om die beste te maak van jou plaastema. Skuurtroues word soms ‘n “barn wedding”, ‘n “rustic chic” troue of ‘n “country” troue genoem, so onthou hierdie terme wanneer jy besig is om nog idees bymekaar te maak. Hier is ons top wenke vir die plaastroue van jou drome.
1. Maak die meeste van die DIY-geleentheid
As jy iemand is wat hou van handwerkprojekte en jou eie persoonlike, kunstige “touch” in jou troue wil inkorporeer, is ‘n plaastroue perfek. Dis die ideale tipe troue vir handgemaakte geskenkies of ‘n mooi waterverf blarekunswerk vir jou troukaartjies of spyskaart. Omdat ‘n plaastoneel reeds outentiek en intiem voel, sal kunstige en handgemaakte dekor bydra tot hierdie gevoel.
2. Inkorporeer enige kleurpalet van jou keuse
Die veelsydigheid en neutrale, aardse kleure wat gewoonlik saam met ‘n plaasskuur kom, gee vir jou baie vryheid ten opsigte van ander kleurkeuses. Enige gewilde kleurpalet sal by jou troue inskakel, so jy kan kies en keur as dit kom by die kleur van jou blomme, tafeldoeke, servette en elke ander element.
3. Hou dit eenvoudig
Met ‘n plaasskuur kan jy enige iets doen - kyk maar net na al die maniere waarop Excelsior se skuur al omskep is. Maar indien jy graag ‘n egte plaastroue in gedagte het, is dit beter om eerder met die “less is more” beginsel te werk. Jou “rustic” atmosfeer word reeds geskep met die skuur self. Jy hoef dus nie duisende rande op die mees uitspattige blomme, stoele en dekor te spandeer wat jy kan kry nie. Hou jou tema intiem deur ‘n paar elemente eenvoudig en maklik te hou. Gaan pluk ‘n paar veldblomme en struike vir die tafels en dekor, of kyk wat jy kan uitrig met ‘n paar ou houtplanke en voorheen gebruikte glasbottels. Jy sal verbaas wees oor wat jy kan bereik met eenvoudige elemente en kreatiewe beplanning!
4. Gebruik die hoogte van die dak
Een van die lekkerste elemente van ‘n plaasskuur is dat hy gewoonlik ‘n hoë, oop dak het. Daar is dalk selfs houtbalke of sinkplate wat die venue sy unieke gevoel gee. ‘n Hoë dak is ideaal, aangesien jou gaste nie beknop of benoud sal voel terwyl hulle probeer dans nie. Wat meer is, jy het meer vryheid om pragtige dekor in die dak te plaas! Elegante kandelare, blare en takke, vlaggies of liggies is almal goeie opsies om jou dak te laat inskakel by jou tema. Indien jy wel die spasie ‘n bietjie kleiner of meer intiem wil laat voel, kan jy altyd by die venue hoor of hulle groot, diagonale lappe oor die breedte van die dak kan span. Dit “verlaag” die dak en maak dat die spasie nie so groot voel nie.
5. Gebruik daardie boere-inspirasie!
Terwyl jy aan jou plaastroue beplan, oorweeg al die oulike visuele elemente wat ‘n plaastema bied. Hoewel jy jou troue neutraal en slegs esteties kan hou as jy wil, het jy ook die opsie om plaaselemente in jou troue in te werk. Julle kan dalk jul foto’s laat neem op ‘n trekker of in een van die omringende lande. Jy kan plaasdiere of -gereedskap by jou kaartjies inbring, of selfs harke en hooibale as deel van jou dekor gebruik. Hierdie prettige en outentieke tema bied baie waarmee jy kan werk, so maak die beste daarvan.
6. Kies blomme wat die regte gevoel gee
Jou keuse van blomme het ‘n groot impak op die visuele voorkoms van jou troue. Dit is amper soos die agtergrond waarmee jou gaste jou troue gaan assosieer. Met ‘n plaastroue is jou keuse van blomme so wyd soos met jou kleurpalet - enige iets kan werk. Jy kan besluit om eenvoudige, kleiner blomme te hê wat goed werk saam met struike en fynbos. Aan die ander kant kan jy groot en oordrewe blommerangskikkings gebruik wat ‘n indruk maak sodra jy by die vertrek inloop - ‘n plaasskuur het altyd genoeg spasie daarvoor. Maak seker dat die blomme wat jy kies, steeds inskakel met jou aardse en plaas-geïnspireerde gevoel.
7. Hou die weer dop
'n Plaasskuur behoort waterdig te wees, maar dit kan steeds baie koud raak in die aand indien julle in die winter trou. Maak seker of die venue nie dalk 'n binnenshuise verhittingsisteem of selfs kaggels het nie. Die weer kan jou ook beperk ten opsigte van foto's buite op die koringlande of voorgereg op die gras. Hou dit dus ook in gedagte wanneer jy jou reëlings begin tref.
Hierdie is die belangrikste dinge wat jy in gedagte kan hou wanneer jy ‘n plaastroue reël. Daar is egter nog baie ander wenke daarbuite as dit kom by plaastroues, so jy kan gerus lekker baie tyd afstaan aan kreatiewe idees bymekaarmaak. Elke plaas-venue verskil natuurlik, en elkeen sal iets unieks hê om te bied wat jou troue se gevoel sal help bepaal. Kies dus ‘n venue wat perfek by jou beplande atmosfeer inpas, en gebruik hierdie wenke om kreatief te werk te gaan met die beskikbare spasie.
Indien jy in die Tuinroete bly en nog altyd gedroom het van ‘n plaastroue, kom kuier gerus by Excelsior se plaasskuur. Ons kan jou help om jou droom ‘n realiteit te maak!
댓글