top of page
Search
Writer's pictureRouxne van der Westhuizen

Hoe om die perfekte trouvenue te kies

Dis ‘n feit: die plek waar jy besluit om jou troue te hou, dra amper die meeste by tot die finale atmosfeer van die dag. Jy kan kies om ‘n elegante, klassieke, witgeverfde saal te huur vir jou onthaal, of dalk net ‘n markiestent op ‘n grasperk. Miskien wil jy ‘n plaastroue in ‘n egte plaasskuur reël, of dalk het jy ‘n spesifieke wynplaas in die Boland in gedagte. Die venue bepaal die stemming van jou troue, want dit dien as die konteks waarin jy en jou gaste jou troudag gaan onthou. As jy wonder oor waar om te begin om die perfekte venue te kies, hier is 10 praktiese stappe wat jy kan volg.



1. Besluit waar julle wil trou


Deesdae is daar nie enige beperking op die ligging vir julle troue nie. Julle kan in jou eie tuisdorp trou, in jou toekomstige man s’n, of nie een van die twee nie. Miskien wil julle eerder in die dorp of stad trou waarin julle beplan om te bly, of op ‘n onverwagte, eksotiese plek - “destination weddings” is die gewilde opsie vir baie jongmense! Kies die plek waar julle albei gelukkig sal wees om te trou.

Dink ook aan jou gaste: gaan dit maklik wees vir die meerderheid van jou gaste om by die ligging uit te kom? Is daar opsies vir akkommodasie naby, of dalk by die venue self? Dis nie ‘n vereiste nie, maar as jy wil hê dat elke persoon op jou gastelys daar moet wees, sal jy ‘n paar van hierdie faktore in ag moet neem.

2. Kry 'n paar opsies vir die datum


Besluit saam wanneer julle wil trou (onthou om genoeg tyd in te reken vir die beplanning). Kies dan ‘n paar datums binne die spektrum van ‘n paar weke, indien daar nie faktore is wat jou tyd beperk nie. As jy meer aanpasbaar is met julle datum, sal dit meer waarskynlik wees dat die venue waarop jy besluit het ‘n gerieflike datum vir julle beskikbaar sal hê.

3. Beplan julle begroting


Julle kan sommer nou al elke afdeling van die begroting uiteensit, of julle kan met ‘n algemene idee begin net om dinge aan die gang te kry. Om ‘n raamwerk van finansies in gedagte te hou, sal jou help om die venue-opsies uit te kanselleer wat buite jou begroting val.



4. Hou die gastelys in gedagte


Indien julle nog nie ‘n gastelys opgestel het nie: die beste tyd om dit te doen, is voordat jy ‘n venue kies. Jy sal taamlik teleurgesteld wees indien jy jou hart verloor op ‘n spesifieke venue, net om later uit te vind dat jy helfte van jou aantal gaste gaan moet sny omdat dit nie almal kan akkommodeer nie. Maak dit dus vir jouself makliker deur sommer vroeg julle getalle te bevestig.

5. Besluit op die gevoel wat jy wil hê


Nou is dit tyd om te dink oor al jou estetiese idees tot dusver. Wat gaan jou troue se algemene tema of atmosfeer wees? Soek jy ‘n feetjiebos-troue, ‘n elegante moderne troue, of ‘n plaastroue? Watter dekor-idees wat jy dalk op Pinterest gesien het, wil jy graag inkorporeer? Hoeveel spasie gaan jy nodig hê daarvoor? Besluit watter details van jou troue se estetiese voorkoms is onderhandelbaar, en waarsonder jy nie jou droomdag kan laat realiseer nie. Skryf al hierdie dinge neer in jou beplanning, want jy kan dit gebruik om te besluit of die venues waarna jy kyk jou visie kan akkommodeer.

6. Wat moet als ingesluit wees?


Miskien verkies jy ‘n alles-in-een venue waar alles deur een plek en persoon gereel word, insluitend die spyseniering, blomme en dekor. Excelsior Weddings in Vleesbaai bied byvoorbeeld al hierdie dienste. As ‘n alternatief kan jy klomp verskillende maatskappye benader vir elke aparte element wat nodig gaan wees.

7. Begin ‘n aanlynsoektog vir venues


Noudat jy al die bogenoemde in gedagte het, het jy dalk klaar ‘n idee na watter tipe venue jy moet soek. Nou kan jy na hartelus begin soek na venues in die omgewing waarop julle besluit het wat jou alles sal kan bied wat jy in gedagte het.



8. Kontak en besoek die venues wat jou die meeste interesseer


Maak dit ‘n pret “road-trip” vir jou en jou verloofde, indien julle trouligging nie in julle huidige omgewing is nie. Besoek een of twee venues ‘n dag. Reël ‘n afspraak met die in-huis troukoördineerder, indien hulle een het. Kyk na soveel venues as wat jy wil, maar stel vir jouself ‘n afsnydatum. Dit help nie dat jy jouself deurmekaar maak met ‘n magdom verskillende venues nie! Onthou om foto’s te neem van elke venue waarna jy later weer kan kyk. Vergelyk hoe elke venue gaan werk met die dekor en ander idees wat jy in gedagte het.


9. Kyk na die kos


Spyseniering is natuurlik een van die belangrikste aspekte van jou onthaal. Vra vir elke venue wat hul spyskaartkeuses is, of saam met watter plaaslike spysenieringsmaatskappye hulle gewoonlik mee werk. Maak seker die kos is van die hoogste gehalte en, indien julle kan, kyk of julle ‘n “sample”-voorstelling van sommige disse kan kry by die venues.

10. Vergelyk die voordele en nadele


Hierdie kan in ‘n lekker speletjie tussen jou en jou verloofde ontaard! Besluit op ‘n top drie, maak lysies, kyk weer na die foto’s en gooi name in ‘n hoed as julle regtig nie kan besluit nie. Dalk het die mooiste venue waarna julle gekyk het, nie die beste kos nie. Prioritiseer wat vir julle belangrik is, en kyk watter venue die naaste aan al julle vereistes kom.

Daar is tonne vrae wat jy eers jouself moet afvra voor jy finaal besluit op ‘n venue vir jou troue. As jy die bogenoemde stappe in gedagte hou getrou bly aan jou eie persoonlikheid en die egte gevoel van jou en jou verloofde se verhouding, sal die proses om ‘n venue te kies ‘n maklike besluit wees.

 

Wat is die spesifieke dinge waarna jy dadelik wil kyk as ‘n trouvenue oorweeg? Laat weet ons gerus in die kommentaarafdeling hier onder.


92 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page