Dit was ‘n groot teleurstelling toe een van die eerste voorsorgmaatreëls teen die verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika die verbod op groot samekomste was. Want dit sluit ongelukkig troues ook in. Baie verloofde paartjies moes hulle troues uitstel, sonder ‘n seker idee van wanneer die finale troudatum gaan wees. Gelukkig is daar baie maniere om positief te bly gedurende hierdie tyd. Daar is sommer ‘n klomp take en aktiwiteite wat julle kan afhandel terwyl julle gedwing word om by die huis te bly. Lees verder vir ‘n paar van ons voorstelle.
1. As jy nog nie het nie, maak ‘n Pinterest bord
Pinterest is die sosiale media toep met alle visuele idees en inspirasie waaraan jy kan dink. As jy net “wedding inspiration” intik, sal jy tonne resultate kry. Vir baie bruide is hierdie die eerste stap tot hul troue se beplanning om idees bymekaar te maak. Dis ook iets wat jy baie maklik by die huis op jou selfoon of rekenaar kan doen. Pinterest se idees is eindeloos - maak seker jy sit ‘n goeie paar ure hiervoor uit!
2. Bepaal wat julle nog moet finaliseer
Dalk het julle baie onlangs verloof geraak en is nog aan die begin van julle beplanning. As dit die geval is, moet julle nog al die dinge beplan wat op hierdie lys is en is daar sommer baie om julle besig te hou. Indien julle al ‘n rukkie in die beplanningsfase was en dalk selfs al julle datum moes uitstel weens die Covid-19 pandemie, dan is daar min wat julle nog hoef te doen. Maar, afhangend van waar in die proses julle staan, nou is die beste tyd om die fyner besonderhede af te handel. Maak ‘n lys van wat nog gedoen moet word en merk hulle af: moet julle nog die gastelys of blomme finaliseer? Of die spyskaart? Moet julle nog die tafelplasings uitsorteer? Dalk nog ‘n fotograaf reël?
3. Besluit op die styl van die troue
Miskien het jy al lankal ‘n idee oor hoe jou troue eendag moet lyk. Maar nou kan jy dit tyd gebruik om dit te bevestig, terwyl jy besig is om aan die besonderhede te beplan. Watter tipe tema wil jy graag hê - ‘n ‘rustic’ plaastroue, ‘n elegante of sjiek troue, of ‘n boheemse een? Hoe sal die dekor lyk vir die troue wat jy in gedagte het?
4. Doen aanlyn soektogte en inkopies
Die internet is gelukkig een van die dinge wat nog ten volle funskioneer gedurende die grendeltyd. Doen ‘n paar virtuele toere van venues indien julle nog ‘n plek soek. Soek vir geskenkidees of bruidsmeisierokke wat jy aanlyn kan koop.
5. Gesels met jou bruidsmeisies en almal wat jou help organiseer
Hou gereelde Skype- of Zoomsessies met jou bruidsmeisies en betrek hulle by die reëlings. Maak dit ‘n weeklikse sosiale sessie waar elkeen ‘n glasie wyn of eetgoed moet ‘saambring’ en waartydens julle kan opvang en saam kan opgewonde wees! Gesels met jou troukoördineerder (as jy een het) of die organiseerders by die venue om te kyk dat alles nog reg is vir wanneer die groot dag aanbreek.
6. Kry inspirasie vir jou rok
Dalk het jy al klaar ‘n paar rokke begin aanpas voordat die ‘lockdown’ begin het. Daar is egter nou tyd vir jou om deur die aanlyn versameling of katalogus van ‘n bruidswinkel te kyk en nuwe idees te oorweeg. Miskien kom jy op ‘n hele nuwe idee af, of jy loop dalk jou ideale rok aanlyn raak! Teen die tyd dat die grendeltyd verby is, weet jy dan presies hoe jou rok gaan lyk en waar jy dit kan kry. Baie winkels en trourokvervaardigers gee jou die opsie om ‘n rok by jou huis aan te pas. Maak net seker jou toekomstige bruidegom is nie in die vertrek nie!
7. Maak ‘n speellys
Hier is ‘n lekker aktiwiteit wat jy en jou verloofde kan doen as julle ‘n bietjie wil ontspan en ‘n breek van al die ernstige reëlings wil vat. As een van julle Apple Music of Spotify het - nog beter! Maak seker julle albei se gunsteling sokkietreffers is op die speellys vir die onthaal, asook ‘n paar ‘crowd favourites’ wat almal by die troue se voete aan die dans sal kry. Julle kan dit uittoets deur in die sitkamer te dans! Onthou om ook ‘n paar rustiger liedjie by te sit vir wanneer almal arriveer, asook tydens ete.
8. Span jou D.I.Y. vaardighede in
Wil jy dalk die tafelversierings, gastegeskenkies of tafelplasings self maak? Nou het jy lekker baie tyd vir hierdie kreatiewe projekkies. Baie bruide verkies om hul troukaartjies en RSVP-skakel aanlyn aan gaste te stuur, maar maak dan ook ‘n paar mooi, harde kopie kaartjies vir oupas, oumas of dié wat nie ‘n e-posadres het nie.
9. Spaar!
Nog ‘n voordeel van by die huis sit, is die gebrek aan geleenthede om geld uit te gee. Gebruik hierdie kans om ‘n paar ekstra rande te spaar en julle begroting aan te pas. Jy kan dit gebruik om iets ekstra vir die troue aan te skaf wat julle nie voorheen kon bekostig nie, byvoorbeeld ‘n video-opname saam met die troufoto’s.
10. Beplan solank aan die wittebrood
Gaan op ‘n virtuele reis! Wat is jou droom wittebroodbestemming? Wat is julle begroting vir die wittebrood? Gaan die Covid-19 pandemie dalk beteken dat julle die wittebroodreis dalk plaaslik gaan moet hou - en indien wel, wat is die topbestemmings in Suid-Afrika?
Hier is tien maniere waarop jy kan seker maak dat jou troubeplanning nie stilstaan gedurende ‘lockdown’ nie. Party paartjies vat dit sommer ‘n stappie verder: hulle hou reeds ‘n klein, slegs-familie trouseremonie tydens grendeltyd, en reël die onthaal en wittebrood vir later. Hoe dit ook al sy, julle hoop op ‘n droomtroue is darem nie verlore nie. Hou mekaar positief en gebruik hierdie geleentheid by die huis om die besonderhede hierbo af te handel. Dan kan julle solank regstaan vir die dag wat julle voor al julle vriende en familie trou aan mekaar belowe!
Moet jy ook jou troue gedurende 'lockdown' beplan? Laat weet ons hoe jy dit doen! Ons hoor graag van jou in die kommentaar hieronder.
留言