top of page
Search
Writer's pictureRouxne van der Westhuizen

Dis trouseisoen - elke seisoen!


Is somer die enigste seisoen met die perfekte trouweer? Die warmer seisoen is ‘n gewilde tyd om ‘n troue te reël, maar dis beslis nie die enigste een waarin jy makietie kan hou nie. Hier is elke seisoen se voordele en nadele, sodat jy self kan besluit watter tyd van die jaar perfek vir jou troudag sal wees.


Winter

Nadele

  • Dis natuurlik kouer in die winter en dit kan jou trourok se ontwerp beïnvloed.

  • Jou onthaal se uitleg en konsep by die venue sal meer beperk wees, aangesien jy nie ‘n buitelugtroue sal kan hou nie.

  • ‘n Wintertroue in Suid-Afrika is nie noodwendig ‘n pragtige wit “wonderland” soos ‘n oorsese wintertroue nie (behalwe natuurlik as jy in die Sutherland-omgewing bly).

Voordele

  • Daar sal ‘n groter kans wees dat jy ‘n beskikbare datum vir die troue tydens die winterseisoen sal kan kry, omdat dit ‘n minder besige tyd vir venues en troukoördineerders is.

  • Jy kan ‘n gesellige, romantiese atmosfeer in die venue skep met ‘n wyntafels, brandende kaggels (indien beskikbaar), warm sjokolade, kombersies vir die gaste en kerse op die tafels.  

  • Jy kan goeie afslagpryse op sekere aspekte van die troue se beplanning kry en dus ‘n paar ekstra sente spaar.


Lente

Nadele

  • In sommige dele van die land kan die weer baie onvoorspelbaar wees in September.

  • Daar is baie stuifmeel in die lug, so jou gaste kan dalk hooikoors kry - dit klink dalk soos ‘n onbenulligheid, maar ‘n genies en geproes onder jou gaste is dit nie die beste trou-atmosfeer nie!

  • Lente is ook ‘n baie gewilde tyd vir troues, so jy kan dalk sukkel om ‘n beskikbare datum te kry.

Voordele

  • Dis blomseisoen! ‘n Wye verskeidenheid van blomme en bloeisels lyk tydens hierdie tyd van die jaar op hulle beste, so jy kan kies en keur van die mooiste blomme.

  • Die weer is oor die algemeen beter en jy hoef nie bekommerd te wees oor erge onweer of koue temperature nie.

  • Daar is nie so baie vakansiedae in hierdie tyd wat jy moet inreken nie.


Somer

Nadele

  • Dis warm! Sonnige weer kan te veel raak wanneer jou gaste in ‘n warm kapel moet sit gedurende die seremonie. Baie bruide bekommer hulle ook soms oor hul grimering en hare wanneer hulle sweet.

  • Saam met hitte, kom die goggas. Indien jy voorgereg op die grasperk buite die venue wil bedien, moet jy dus voorbereid wees op ‘n paar muggies.

  • Somer is die moeilikste seisoen om ‘n beskikbare datum te kry. Jy sal dus ver vooruit moet bespreek as jy in die somer wil trou.

Voordele

  • Mooiweer is amper gewaarborg. Jy kan ‘n buitelugseremonie of -onthaal reël indien jy wil en jou fotograaf sal genoeg daglig hê om mee te werk tydens die troufotosessie.

  • Dis die groenste seisoen van die jaar. Daar is baie blare en groenigheid beskikbaar as jy ‘n bostema aan jou troue wil gee.

  • ‘n Somertroue rondom Kersfees kan ‘n baie spesiale en romantiese atmosfeer hê (hoewel daar dalk minder gaste sal opdaag as jy té naby aan Kersfees trou, omdat baie mense dit saam met hul families spandeer).


Herfs


Nadele

  • Dit begin koeler raak en die daglig kwyn gouer weg, so jou skedule sal hiervoor voorsiening moet maak.

  • Daar gaan baie blomme wees wat nie meer in seisoen is nie, so jou keuses gaan in hierdie opsig ook beperk wees.

Voordele

  • ‘n Herfstema is deesdae baie in die mode, veral vir boheemse of "rustic-chic" troues. Jy kan ‘n pragtige atmosfeer bou uit die warm kleure van herfsblare en boomtakke.

  • Herfsweer is nie gewoonlik té koud of té warm nie. Dit gee jou en jou bruidsmeisies die kans om te dra wat julle wil, aangesien julle nie beperk sal word deur die weer nie.


Noudat jy weet wat die goeie en slegte van elke seisoen is, kan jy self jou ideale troutyd kies. Indien jy nog inspirasie nodig het voordat jy kies, loer gerus na Excelsior se Pinterest-borde vir elke seisoen. Daar is een vir Somertroues, Wintertroues, Herfstroues en Lentetroues. Elke seisoen het unieke blomme, temas en kleurpalette om van te kies.

So, watter seisoen gaan jou trouseisoen wees?

26 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page